
Jaycee trek na sy pa, vertel hy.
Gaan onse Jaycee Reynolds die Mnr. Mardi Gras kompetisie einde vandeesmaand wen, en ons land volgende jaar by die Mnr. Gay Wêreld kompetisie verteenwoordig? Dit lyk mos moontlik. ‘n Strawwe oefenprogram laat die bruinkop van Atlantic Beach estate nog beter lyk as vantevore. En dit was mos mooi genoeg om model te wees …
Die afgelope ruk het Jaycee sy daaglikse uur-en-‘n-half lange gimprogram verdubbel. ”Ek oefen vanaf 7 uur vir ‘n uur-en-‘n-half, dan vat ek ‘n halfuur breek,” vertel hy. “Dan oefen ek weer vir ‘n uur-en-‘n-half.”
Die oefenprogram gaan gepaard met ‘n leefstyl wat bergfiets ry, abseil en stap insluit, en hopelik nog skermsweef ook, want Jaycee is mal oor adrenalien. Indien hy die Mnr. Mardi Gras-titel wen, gaan hy hom beywer om mense te help om teen boelies op te staan. Dit lê na aan sy hart, “Net omdat iemand anders is, beteken nie hy moet geboelie word nie,” sê hy. “Die hele idée agter die kompetisie is om ‘n ambassadeur vir die gay gemeenskap te wees.” Jaycee vertel dat hy op die ouderdom van 17 uitgekom het. Hy was op daardie stadium op Groblersdal op skool.

‘n Stoomwarm uiterlike.
“Dit was soos vet op die vuur,” onthou hy. “Ek het omtrent die wind van voor gekry. Ek het ‘n ruk soos ‘n slagoffer gevoel, maar ek het besef ek gaan oor dit moet kom.” Op daardie stadium het Jaycee ook probleme met sy pa gehad. Hulle het die probleme nou uitgesorteer, vertel hy, en kuier heerlik saam.
As model is dit nodig om volle vertroue in jou voorkoms te he. Die modelwêreld is hard, en beoordeel jou op jou uiterlike. “Mense sê vir jou reguit jou hare is nie reg nie. Dis baie shallow.” Die oppervlakkigheid het veroorsaak dat Jaycee hom op ‘n punt onttrek het van modelwerk. Hy het gesinsberading deur Intec gestudeer, en sy eie onderneming, Small Room Talent Management, begin. Hierna het hy in die Amerikaanse televisiereekse, Black Sails en Dominion, opgetree. In die proses het hy weer nuwe hoop vir sy loopbaan as model gekry.
Mooi genoeg om Mnr. Mardi Gras te wees, en Suid-Afrika in 2017 by die Mnr. Gay Wêreld kompetisie te verteenwoordig, is Jaycee gewis. Kom ons hoop sy anti-boelie beleid druk ook op die beoordelaars se regte knoppies.
Die Mnr. Mardi Gras kompetisie vind vanaf 27-30 April op Knysna plaas.