Uitblinker kan net bedags studeer

Rochelle Sylvester studeer in die kerk.

Rochelle Sylvester studeer in die kerk.

‘n Uitblinker-tiener van Wolwerivier kan net bedags studeer weens gebrek aan elektrisiteit. Snags is ook ‘te woelig,’ vertel Rochelle Sylvester.

Rochelle (byna 16) is een van die sterre in die ou Wolwerivier nedersetting buite Melkbosstrand.

Die graad 11 leerder lyk skaam wanneer die gemeenskapswerker Magdalene Minnaar haar naderroep en sê, “Sy staan vir my uit. Ek bid elke dat dat die kind net bly staan, om bo uit te kom bo omstandighede.” Dit lyk of Rochelle wil vlug, maar dan roep Magdalene haar terug. Sy wil die een vertrek-huis gaan wys waarin Rochelle met sewe ander familielede bly.

Ouma Philida het 'n beroerte gehad.

Ouma Philida het ‘n beroerte gehad.

Geen plek
Alhoewel baie lede van die gemeenskap vandag na Melkbosstrand is omdat dit Sassa se uitbetalingsdag is, is Rochelle se hele gesin tuis, met die uitsondering van haar ma wat char-werk doen. Oupa Arthur du Toit, wat Alzheimers het, sit in die yl sonnetjie voor die huis. Rochelle se pa, Wessel, van wie sy glo haar slimgeit gekry het, is besig om vuur te maak.

Ouma Philida lê in ‘n bed langs die voordeur. Gewoonlik sit sy bedags in ‘n rolstoel, verduidelik Rochelle se tante, Isabel Sylvester. Maar vandag is te koud. Sy dink daar was ‘n verband tussen die afbrand van Philida se huis en die beroerte wat ‘n maand of twee later gevolg het.

Wil onderwys studeer
Rochelle luister woordeloos na die verduideliking van haar familie se wel en wee. ‘n Speurverhaal van Fanie Viljoen lê oop op die tafeltjie voor haar, maar dis so donker hier binne dat mens jou nie kan voorstel hoe sy dit kan lees nie.

Sy gaan studeer bedags soms in die klein kerkie hier naby, vertel sy. Snags studeer sy glad nie, want dis te “woelig.” Haar gunstelingvakke is Besigheidstudies, Wiskunde Geletterdheid en Geskiedenis. Sy wil eendag onderwyser word.

“Vertel hoe laat jy soggens pad toe stap,” sê-vra Magdalene. Rochelle stap soggens half-sewe af na die teerpad om vir Vaatjie se bus te gaan wag. Teen 7.30 vm is sy by die Proteus Sekondêre Skool in Atlantis, en teen 8 vm begin die skool. Die trek op haar gesig sê sy dink nie dit is ‘n lang rit nie. Die trek op haar gesig sê: Miskien is dit die beste deel van haar dag, en kan dit selfs langer neem.

NEWSLETTER

SIGN UP

Do you want to get the latest news from Melkbos.net? Enter your email address and click subscribe.