Uit Hennie se Pen

Die eerste vuurtjie brand al mooi vir die Probusbraai. Om die rooster is van links Koos Myburgh, Ben Smit, Basie Smit en Kobus Victor.

Die eerste vuurtjie brand al mooi vir die Probusbraai. Om die rooster is van links Koos Myburgh, Ben Smit, Basie Smit en Kobus Victor.

Hennie van Deventer besing die lof van die Probusklub wat so lekker braai dat mens net kan hoop om uitgenooi te word.

“Altyd reg vir kuier.  Dis nou die manne van die Probusklub van Melkbos (amptelike naam Probusklub van Blouberg).  Die klub borg die woord “kuier” by die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal).  Op Woensdag 17 Mei het hulle weer daad by die woord  gevoeg en ge-KUIER in die ware woordeboek-sin van die woord.
Met ‘n braai natuurlik, want is die hul tweede natuur.

Die perfekte laatsomerdag op Melkbos was ideaal om ‘n vuurtjie of twee aan te steek en ‘n tjoppie of wat op die kole te gooi, saam met ‘n yskoue wyn of ‘n bier. By Penguin Place 11, Melkbos, die huis van een van die lede, is presies dit gedoen, met die Atlantiese oseaan aan hul voete en Tafelberg diepblou in die verte.

Braai is een van die groot tradisies van die klub – ‘n klub vir afgetredenes en semi-afgetredenes, met so iets in die 20 lede uit elke sfeer van die samelewing.  Daar is afgetrede dokters, mynbestuurders, offisiere in die polisie en die weermag, bankbestuurders, joernaliste, landmeters, noem maar op.  Die huidige voorsitter, dr. Kobus Victor, is ‘n oud-predikant.  Hy is darem nie te kwaai met sy kuddetjie nie!

‘n Veteraanlid, Sakkie Bruwer, is die klub se braaimeester.   Ongelukkig het hy aan die vooraand van die groot braai in die hospitaal beland.  Aan gewillige hande het dit egter nie ontbreek nie.  Koos Myburgh, ‘n boer, Basie Smit, oud-generaal in die polisie, en Frits Smit, ‘n sakebestuurder by ‘n oliefirma, het die roosters meesterlik beman en die vleis het, soos altyd, eksieperfeksie op die borde gekom.

Die Probusgroep is ‘n hegte eenheid wat in ‘n lekker gees soos ‘n span saamwerk.  Hul vroue is voorslae agter die kospotte – ware kokkedore en koekedore uit eie reg. Vir lekker eet: hoop jy word ‘n keer na ‘n Probusbraai genooi.”

Hennie van Deventer is ‘n skrywer met 17 boeke onder die belt; hy was ook 40 jaar lank ‘n gerespekteerde joernalis. Jy kan sy skrywe lees by http://blogs.litnet.co.za/hvandeventer/

NEWSLETTER

SIGN UP

Do you want to get the latest news from Melkbos.net? Enter your email address and click subscribe.