Twee Sterre, Een Visie

Marilene van Wyk (links) en Kayla Henning.

Marilene van Wyk (links) en Kayla Henning.

Melkbosstrand Hoërskool leerders Marilene van Wyk en Kayla Henning benader skerm en hip-hop dans met die fokus van top sportsterre. Die twee graad 11-leerders maak opofferinge. Nie een van die twee skoonhede het tyd vir kêrels of niksdoen nie. “Hoe kry julle dit reg?” wou Melkbos.net weet.

“Dis determination. Ek wil daar kom. My ouers, almal, wys vir my ek kan dit doen,” vertel Marilene. Sy’t vanaf 1-10 April in Bourges, Frankryk, deelgeneem aan die Junior Wêreld Skermkampioenskappe. Kayla se antwoord verskil, want soos sy uitwys, is Marilene se sport “‘n eenmansport en myne is ‘n groepsding. Ek kry half motivering van my span. Ek dans al lank, maar hulle doen hip-hop baie langer as ek.”

Marilene skerm 12 ure elke week.

Marilene skerm 12 ure elke week.

‘Net fokus’
Afrigters speel ‘n groot rol in Kayla en Marilene se lewens. Hulle help die meisies om soos wenners te dink. Kayla se afrigter sê, “Mens moet net fokus op dans en nie op jou ouers en vriende nie.” Sy skep asem, en voeg by, “Jy moet dit ook geniet. Hy maak dit lekker.”

Russiese afrigter, voormalige wêreldkampioen
Marilene neem twee maal per week, op Donderdae en Saterdae, klas by die Russiese afrigter Misha Galukhin by die Italiaanse klub in Milnerton. Elke les is drie uur lank. Op Vrydag en Dinsdagaande oefen sy drie uur lank saam met die ‘high performers’ by Bishops in Rondebosch. Die klasse is oop vir skermers van alle ouderdomme. Een van hulle is ‘n voormalige wêreldkampioen. Kayla se program lyk heeltemal anders. Sy oefen ‘n uur lank op Maandae en Woensdae. Vrydae en Saterdae oefen sy en die res van die LiL Shifterz Dance Crew tussen twee en ses ure lank. “Voor ‘n groot kompetisie sal ons 9 ure oor ‘n naweek oefen,” vertel sy.

Kayla en hip-hop dansmaats Chanté Ellis en Luc Kunz.

Kayla (regs) dans 9 ure oor naweke voor kompetisies.

Oefenprogramme spesifiek uitgewerk
Kayla en Marilene het oefenprogramme wat spesifiek vir hulle uitgewerk is. Kayla is aangesê om deel te neem aan langafstand atletiek en netbal. Marilene is weer aangesê om nie enige ander sportsoort te doen nie, want dan gaan ander spiere ontwikkel. Sy gaan draf wel een of twee maal per week.

Toekomsplanne? Marilene se kop staan na Maties en in 2020 wil sy deelneem aan die Olimpiese Spele. Kayla wil dokter wees, maar is nog bietjie in twee geskeur tussen dit en dans, kan mens sien. Miskien hang alles af van wat in Augustus in Las Vegas by die wêreld hip-hop kampioenskappe gebeur.

 

NEWSLETTER

SIGN UP

Do you want to get the latest news from Melkbos.net? Enter your email address and click subscribe.