‘n 79-Jarige oom maak Melkbosstrand skoon. Die meeste mense sou seker nooit van oom Renier Groenewald gehoor het as sy dogter, die bekende sakevrou, Sonja Smith-Janse van Rensburg, nie oor hom gepost het op Facebook nie. Gee vir hom ‘n drukkie as julle hom sien, het sy vir mense gevra. Hieroor lag die silwerkop. Die oud-Gautenger is ‘n man met ‘n missie.

Oom Renier Groenewald maak strand skoon.

Sonja Smith-Janse van Rensburg, besturende direkteur van Sonja Smith Funeral Group.
Groenewald het selfs sy eie skoonmaak toerusting gemaak. Dis ‘n staal pen met ‘n skerp punt. ‘n Kruis tussen ‘n “stap-kierie en ‘n beach cleaner,” beskryf hy. Die skerp punt druk dwarsdeur plastiekbottels en blikkies, en mens hoef glad nie met jou hande aan die gemors te vat nie. “Dan vat ek dit na die naaste vullisblik.” Sy rede vir die skoonmakery is eenvoudig. “Daar is nie ‘n Planet B nie, jy weet, soos in Plan B nie.”
Groenewald is allergies vir komplimente
Hy benadruk dat hy nie al persoon is wat strand skoonmaak nie. “Dit stel my so bietjie in die verleentheid,” sê hy. “Ons was so 7-8 op ‘n stadium wat die strand skoongemaak het, elke eerste Saterdag van die maand.” Die groep het opgebreek, maar ‘n paar siele gaan voort om die strand skoon te maak. “Elkeen so op sy eie.” Dis nou tot die dag wat sy droom bewaarheid word en die wêreld skoon is omdat die kinders reeds op skoolvlak geleer is om nie te besoedel nie.
Komende Paasvrydag tree nog twee stryders toe tot die stryd om die strand skoon te hou. Die hoof van die Melkbosstrand Belastingbetalersvereniging Smokie la Grange kom vroeg-oggend strand toe om swart sakke uit te deel aan vakansiegangers om hulle vullis in te sit. Teen laatmiddag gaan maak Maritha de Kock (80) ‘n draai namens haar op die strand, om te sien of die vullis netjies in ‘n hoek oorkant die damhuis gesit is, vir Solid Waste om te kom haal.