Stropers kry Pak

 

Perlemoen waarop beslag gelê is.

Perlemoen waarop beslag gelê is. Foto’s: Verskaf

‘n Hoogs georganiseerde netwerk van perlemoenstropers het onlangs die wind van voor gekry. Twee stropers is op 7 April op Melkbosstrand in hegtenis geneem. Die stropers is met 425 perlemoene in hulle besit betrap, bevestig konst. Debi Alard van die Melkbosstrand polisie.

Hulle het op 11 April in die landdroshof op Atlantis verskyn. Die arrestasies het plaasgevind tydens ‘n week wat deur die voorsitter van die Melkbosstrand Buurtwag, Jacques Erasmus, as ‘vol aksie’ beskryf is.

perlemoen saps 2Duikers, draers en bestuurders
Erasmus verduidelik aan Melkbos.net dat perlemoenstropers in georganiseerde spanne werk. Die spanne bestaan uit duikers, draers en voertuigbestuurders. Die aflaai en oplaai van die duikers is blitsvinnig. Die duikers is deur ‘n ooggetuie aan hierdie joernalis beskryf as ‘Olimpies’. Volgens Erasmus duik hulle van Kreeftebaai tot by Koeberg. Hulle dra verskeie duikpakke oor mekaar om hulle te beskerm teen die ysige seewater waarin hulle ure lank bly. Wanneer duikers agterkom dat die gereg op hulle spore is, gooi hulle jakkalsdraaie. Hulle sal onder meer die perlemoen begrawe in die sand of wegsteek onder seewier.

Soms val ‘n sak vol perlemoen, en lê dit oop en bloot op die sand, soos wat op 4 April gebeur het. Op 27 Januarie vanjaar het die polisie en die buurtwag se “Anti-Poaching Unit” (APU) so byna ‘n groot geluk gehad. In ‘n gesamentlike operasie het hulle 10 stropers vasgetrek. Net een ding het gelol. Hulle het nie perlemoen by hulle gehad nie!

Krimineel vervolg

Die perlemoen is op die strand gelos.

Die perlemoen is op die strand gelos.

Die vermoede het bestaan dat die perlemoene tussen die rotse tussen 1ste Laan en 5de Laan was, of iewers in die see tussen die sleephelling oorkant die NSRI en Slabber se klippe. As dinge al hoe meer kompleks klink, is dit omdat dit ‘n komplekse georganiseerde misdaadnetwerk is. Erasmus vertel dat groepe van tot 25 vemeende stropers al op Melkbosstrand gevind is. Maar weereens het dit gelol. “Hulle kan net krimineel vervolg word as die perlemoen by hulle is.” Dis nie so maklik nie.

Volgens Erasmus neem die duikers selfone in die water in, wat hulle in staat stel om in kontak te bly met die draers en bestuurders van die voertuie. Dis ‘n Perlemoen-‘Gate’ waarvan die tentakels strek vanaf Hawston tot by Melkbosstrand, maar die polisie en APU van die buurtwag is vasberade. “Ons sal nie ophou poog om hierdie stropery hok te slaan nie, aangesien dit lei tot die befondsing van ander ernstige kriminaliteite – hoofsaaklik dwelmhandel,” sê Erasmus.

Besoek http://www.melkbosstrand.net/ vir meer inligting oor die buurtwag.

NEWSLETTER

SIGN UP

Do you want to get the latest news from Melkbos.net? Enter your email address and click subscribe.