
Kastig prossie: Tannie Dot by die polisiestasie. Foto’s: Linza de Jager
Melkbosstrand Gemeenskapsentrum het Saterdagoggend sy stout skoene aangetrek. Steunpillare van die gemeenskap soos tannie Dot, Petra van Asch, Ronel Ferreira en Gerda Nilsson is te midde van hoog drama in hegtenis geneem.
Die arrestasies by plekke soos Slabber se Klippe, OK in Duinefontein en die Birkenhead sentrum was egter deel van ‘n opedag vir die plaaslike polisiestasie en fondsinsamelingsdag vir Melkbosstrand Gemeenskapsentrum. Die geld word gebruik vir projekte soos ‘n sentrum vir kleuters in Olive Close en die polisie se Weduwee- en Weesfonds.

Gerda Nilsson was ‘n belhamel.
Tannie Dot
Beide mans en vrouens is gearresteer, maar die vrouens het hulself ingeleef in hulle rolle, met ‘n mate van ingebore vroulike drama. Tannie Dot, die oudste van die lot, het haar oortreding – kastige prostitusie – verdedig vanuit die aanhoudingsel in die polisiestasie toe iemand haar kastig uitkryt met die woorde, “Sien daardie ou prostituut. Sy staan al 35 jaar op die straat in Brooklyn.”
“Ek gee ‘n diens!” het die tante verdedig.
“Ek is selibaat!” het ‘n jong polisieman teëgekap asof hy in gevaar verkeer.

Die vrouens ontsnap.
Dramatiese ontsnapping
“Hoe lank moet julle hier bly?”het ‘n lid van die publiek gevra.
“Tot iemand ons kom uitbail,” was die dramatiese antwoord.

Petra van Asch lyk of sy na haar troeteldiere verlang.
Gerda Nilsson, stigterslid van die Melkbosstrand Gemeenskapsentrum en vrou van kolonel Niels Nilsson, het eerste bail gekry, maar sy het al haar vroulike lis ingespan om dit te doen. Nilsson het vroeër in die week op haar Facebook bladsy haar lot bekla; sy’t gesê sy is moeg en dis nog nie eens Saterdag nie.
Teen 11 uur Saterdagoggend was sy lusser vir bail kry as menige geharde misdadiger. Sy’t deel uitgemaak van ‘n groepie vroue wat ‘ontsnap’ het uit die sel en kort daarna teruggebring is. Hierna was daar geen huis te hou met die vrouens nie. “Ons wil die mans hê! Mans! Mans! Mans!” het Gerde ritmies geskree terwyl sy die tralies omklem het asof sy in Guatánamo Bay is.

Eerste uit: Gerda Nilsson se boeie word verwyder.
Kort hierna het sy ‘n seuntjie probeer omkoop met ‘n blokkie Lindt tjoklit. “Gaan soek die sleutel.”
Geen wonder dan dat Nilsson eerste bail gekry het nie. Tussen hakies, die bailgeld was in haar beursie en het ongeveer R100 beloop. Verlede jaar se fondsinsameling het R17 000 opgelewer. Die bedrag wat ingesamel is sal seker teen Woensdag beskikbaar wees.
*Gerda Nilsson bedank al die partye wat betrokke was by gister se fondsinsameling.