Sterk genoeg om my te oorleef

Taf genoeg om my te oorleef.

Taf genoeg om my te oorleef.

Na jare van sukkel met tuinmaak, het ek so te sê opgegee op die idee van groen lower en beddings vol blomme in die Engelse styl. Ek is te deurmekaar en impulsief om tuin te maak op die manier wat eersgenoemde vereis. Ek het ‘n ander, ruwer, tuin nodig. Iets wat my taf ‘love’ kan oorleef, en my hand wat wanneer dit oopgaan, te groot oopgaan en oorwater. Gelukkig is daar plante vir iemand soos ek.

Andersoortige skoonheid.

Andersoortige skoonheid.

Die plante vereis so min water dat ek vergeet om hulle nat te lei, en in die proses leef hulle voort danksy dou en reën. Waarvan praat ek? Kaktusse en vetplante, natuurlik. My liefde vir die plante gaan ver terug, na my grootword-jare op ‘n plaas. Ons het klipmure gehad langs die huis. Propperse ‘flower boxes’ in die Engelse styl, hier in Afrika. Die huis is deur my Oupa vir my stief-ouma gebou. Sy was ‘n groot vrou met oë dieselfde blou as Delft, en sy’t tuintjies in die skeurtjies tussen die klippe geplant. Klein groen spekplantjies wat soos traandruppels lyk. Elegante duif-pienk goetertjies wat gelyk het soos juwele. Jare nadat sy en Oupa weggetrek het van die plaas het ek en my ma ons nog verkyk aan die tuintjies.

Ry op hul eie 'petrol.'

Hulle ‘ry ‘op hul eie petrol. Dank die Vader!

Dis die wonder van vetplante en kaktusse. Hulle ‘ry’ as’t ware met behulp van hulle eie petrol. Hulle het nie my nodig nie. Dank die Vader daarvoor!

Mens kan die plante in groot formaat kry, en jy kan hulle in miniatuur formaat kry. Jy kan hulle in beddings plant, in planthouers, of in ‘n rotsmuur. Jy kan hulle geniet bloot omdat hulle mooi is en kleur en vorm en tekstuur aan jou omgewing gee, of jy kan jouself op die skouer klop omdat jy water bespaar met jou keuse van plante. Op die einde van die dag, bly die plante my verras met hulle anderwêreldse skoonheid en onafhanklikheid.

NEWSLETTER

SIGN UP

Do you want to get the latest news from Melkbos.net? Enter your email address and click subscribe.