Spekskieter se Storie

Roelf 'Spekskieter Bogprater' vertel sy storie.

Roelf ‘Spekskieter Bogprater’ vertel sy storie.

Die man wat Melkbos op hol gehad het, se verhaal is kleurryker as wat die meeste mense sou kon dink. So ook die stories wat rondom hom ontstaan het. Op Paasvrydag het ek met Roelf ‘Spekskieter Bogprater’ Bisschoff, reisiger en storieverteller, gaan gesels. Sommer daar onder ‘n boom oorkant die Spur …

Dit was Paasweer. Propperse paasweer wat beteken meer koud as warm. Roelf was kaalvoet en geklee in ‘n kortbroek en t-hemp. Hy’t so gesond en sterk soos ‘n bokser gelyk.

Waar ons onder die boom gesit het, het hy eenstryk deur gepraat oor sy lewe in die Noorde, en sy reis ‘n maand-en-‘n-half gelede vanaf Thabazimbi. Hy’t heelpad vanaf Thabazimbi met trokke gery, en in ruil vir die bestuurders ‘n Coke of R50 gegee. Hy was op pad na Swakopmund, maar toe’t dinge begin lol.

Beroof
Buite Kraaifontein het die bestuurder van die klein vragmotor wat hom ‘n geleentheid gegee het, weggery met die meeste van sy baggasie en sy geld. R13 000, sê Roelf. “Nou gaan ek nie meer trokke vat nie. Ek sal ‘n taxi of bus vat na Langebaan en plek-plek loop,” het hy gesê op my vraag hoe hy nou by Swakopmund gaan kom.
Die plan was om daar ‘n maand te bly en dan terug te gaan na Thabazimbi.

Die stories
Teen Paasnaweek het hy reeds lank (‘n maand of meer) buite die NSRI se grys-en-rooi gebou op Melkbosstrand gebly. Hy’t ‘n foto van die strook gras en hout-heining wat voor dit loop op Facebook gesit, waar hy verskeie bladsye het: Roelf Spekskieter Bogprater, Roelf Bisschoff, Roelf die liegbek storieverteller, Spekskieter Bogprater. Op die bladsye het hy gepraat van sy tyd op Melkbosstrand en soms kort stories geskryf.

Daar was ene oor ‘n blonde wat hy gehoop het aan hom sou vat, maar dit nie gedoen het nie. Daar was ook stories oor ‘n skip wat in die baai verskyn het en ‘n meermin. Hy’t baie gepraat van hoe lus hy is vir koffie. Hy’t afgedwaal van sy oorspronklike plan om stories te skryf oor die dorpe wat hy besoek tydens sy reis.

Dit was seker die gepratery oor die blondine wat hom die meeste in die sop op die dorp gekry het. Daar was ander voorvalle, asof hy en die dorp net nie vat aan mekaar kon kry nie. Aan die begin het Roelf van huis tot huis geloop en werk gevra. Een man het uitgekom met ‘n brood vir hom. Roelf het rooi gesien. “Ek sal jou brood in jou mond druk,” het hy uitgebars. Nog ‘n man het gevra, “Is jy ‘n parra? Nou lek dan my kar af.” Hy’t opgehou met van huis tot huis werksoek.

Vrees aanval in nag
“Hoekom bly jy dan op Melkbosstrand?” kon ek nie help om te vra nie. “Ek wil uit Melkbosstrand kom, sodra ek my brille kry.” Roelf vertel dat sy bril gesteel is terwyl hy gelê en slaap het voor die NSRI.

Hyt’ ‘n vrees vir ‘n aanval in die nag en slaap eers na 3 uur soggens. “Die eerste nag in ‘n plek is altyd veilig, want mense kyk jou uit. Die volgende dag is ek weg,” vertel hy van sy gewone manier van reis. “Dit was nooit my plan om so betrokke te raak nie. Die ouens het agtergekom ek is swak sonder my brille. Hulle het ekstra kanse gevat.”

Hy was bang hy word weer wakker van iemand wat in sy broeksakke soek, en dat hy instinktief die persoon sal wurg. “My reflekse is vinnig.” Hy’t vinnig gedraai om te wys, hoe vinnig. Toe ons groet, stap hy terug oor die gras na die seekant van die NSRI se gebou. ‘n Reënbui het uitgesak. Hy’t egter skielik iets onthou wat hy op die hart had. “Kan jy my help om ‘n publisher te kry?”

Roelf in Wesfleur hospitaal.

Roelf in Wesfleur hospitaal.

Aanval van ander soort
In die dae wat volg, het die stories oor Roelf vermenigvuldig, en kookpunt bereik. Mense het vertel dat hy getroud is, en ‘n kind het. Ander het vertel dat hy wens hy kan trou. Daar is gepraat van geweld. Hy’t glo iemand ge-headbutt, hy’t glo nog iemand met ‘n emmer water gegooi. Sy ma is hier. Nee, sy vrou is hier. Die stories is nou grotendeels stil. Die plek voor die NSRI waar hy geslaap het, lyk leeg, asof iets weg is waaraan mens gewoond was.

Op die oomblik lê Roelf in Wesfleur hospitaal, die slagoffer van ‘n ligte beroerte. Hy’s ook gediagnoseer met ‘n vergrote hart. Vir die oomblik is hy nog hier op die Weskus. Ver van sy huis.

* Mense wat vir Roelf wil help, kan dit doen deur middel van Karen Dreyer van die Melkbosstrand Gemeenskap Sentrum

 

NEWSLETTER

SIGN UP

Do you want to get the latest news from Melkbos.net? Enter your email address and click subscribe.