
Chanté Green. Foto: Carminda Swanepoel
Naelsbyt en bid. Dit is hoe die dae voor die Mej. Mini Wêreldkompetisie in Turkye vir Chanté Green, Suid-Afrika se mej. Mini Teen, was. Die kompetisie vind op 6 Mei plaas en van die begin af het geldsake gelol vir die Saldanhabaaier.

Chanté het karate begin neem vir selfvertroue. Foto: Carminda Swanepoel
Nadat Chanté se ouers Gary en Chanel twee vliegtuigkaartjies gekoop het (vir Chanté en Chanel), het hulle met hul hande in hulle hare gesit. Hulle het R89 000 kortgekom. Teen Vrydag het die situasie verbeter. Maar het hulle steeds R40 000 gekort. ‘n Week gelede het Garry vir Melkbos.net gesê dit is ‘n kwessie van bid. Dalk sal Chanté nie kan klim op die vliegtuig nie. Hy en Chanel het op daardie stadium reeds die publiek gevra vir bydraes. Chanel het vir ‘n plaaslike koerant, die Capecoastnews, geskryf en vertel dat Chanté gewoonlik ander mense help, maar dat sy die slag self hulp nodig het.
Sy’t vertel van haar “Handjie Projek” wat al meer as 200 komberse geskenk het; van kos skenkings, van lekkers uitdeel op straat en families help wat in nood verkeer. “Ek kan nie onthou wanneer laas Chanté ‘n vakansie gehad het nie.” Die ouers het op Facebook gevra dat Chanté se vriende elk R100 gee.
Teleurgestel

Chanté (links) lyk soos ‘n sonneblom.
“Maar net drie het ‘n bydrae gemaak, die res het verdwyn,” het Garry ‘n week gelede vertel. Dis nie die eerste maal wat die mooi blondekop die wind van voor kry nie. Chanté het al erg deurgeloop onder boelies, vertel Garry. Die geboelie het egter gestop nadat sy begin karate doen het, en die hoof van die dojo vir haar raad gegee het oor hoe om boelies te hanteer.

Sy werk hard vir welsyn.
Moenie dink aan hoe sy lyk op die foto’s nie
Vir ‘n oomblik slaan die trotse pa se emosie deur. “As sy sou wen sou dit net ‘n platform vir haar wees om geld vir welsyn te werf.
Vir Garry is Chanté “net ‘n 12-jarige wat hou van met die honde speel en wawiele doen op die grasperk. Jy moet van haar hou. Moenie nou eers dink aan hoe sy lyk op die foto’s nie.”