Sanger maak Kuns ten bate van Diere

Tony Ridgway. Foto’s: Melkbos.net en Facebook

Sanger en liedjieskrywer Tony Ridgway se hart is nie meer by die musiekbedryf nie. Dis by diere in nood. En al het hy sopas ‘n toekenning gekry vir sy jongste produksie, kyk hy skaars op van die skets waarmee hy besig is, wanneer hy dit noem.

Ons sit op die stoep van die Bistro on the Beach hier in Melkbosstrand, en hy teken ‘n seeumeeu. Die skets is pragtig. Dit gloei wit, grys en fluweelswart. Die skets gaan saam met ‘n groeiende aantal ander diere sketse verkoop word, en die grootste deel van die opbrengs gaan geskenk word aan diere welsyn. Tony hou net ‘n bietjie geld om sy petrol en kunsmateriaal te betaal.

Dankbaar vir nuwe loopbaan
Meestal gebruik hy kunsmateriaal wat hy by mense kry, vertel hy. Op hierdie last-herfs oggend is hy dankbaar vir sy nuwe loopbaan as ‘animal sketcher.’ Hy teken met liefde en oorgawe, en heeldag lank. Dis asof iets losgekom het in hom na 35 jaar in die musiekbedryf; ‘n bedryf wat hom al hoe meer ontnuger het vanweë die sielloosheid daarvan. Dis nou koebaai aan die liedjies skryf vir ander kunstenaars. In die toekoms sal hy net saam met sy eie band Rocking Horse optree.

‘n Paar van die geraamde kunswerke.

Doen self iets
Al is hy ontnugter, kla hy nie. Sy houding is: “Be the change you want to see.” En nou is hy dit. Hy’t net een versoek. Mense moet asseblief vir hom kunsmateriaal gee waarmee hy sy sketse kan maak. Dit kan herwinde (recycled) materiaal wees, sê hy. Op die oomblik gebruik hy enigiets vanaf goedkoop papier tot skoenbokse en papier wat hy by die veearts in die dorp kry. Jeanette van Storars het al rame vir hom gegee waarmee hy self sy kunswerke geraam het.

Op 5 Mei word 15-20 van Tony se kunswerke uitgestal by Beach House Gallery @ MJ’s in Melkbosstrand. Die laid-back boheemse kunstenaar maak plek vir ‘n perfeksionis wanneer hy praat oor die uitstalling. Hy laat niks oor aan die toeval nie. Hy gaan self sy hoekie in die gallery opstel soos hy dit wil hê. Hy neem ‘n antieke lessenaar en sy tikmasjien, en een van sy gedigte sal in die tikmasjien wees. Rocking Horse gaan ook atmosfeer verleen aan die opening deur daar te ‘jam.’

Hulle het name en persoonlikhede
Dit was nou wel teleurstelling met die musiekbedryf wat Tony in die rigting van kunstenaar en kampvegter laat beweeg het. Maar liefde is ook betrokke. Die Ridgways het self twee katte, Maisie en Virginia, en ‘n hond genaamd Grietjie.

Tony en Virginia.

Hy’t die katte by geleentheid al die “Austen susters” genoem. Sekerlik vernoem na die skrywer Jane Austen! Vir Tony het diere name en persoonlikhede. Hy ken die name van diere in sy straat. Daar is James, wat eintlike Krummel heet, maar James het vir hom gesê dat hy eintlik James genoem wil word. Daar is Felix, en nog andere. En dan is daar die ongelukkiges, die weggooi diere, die diere in nood, wat hy wil help.

Daar is soveel nood onder diere. Gaan die reeks diere portrette ten bate van diere ooit einde kry? Tony antwoord die vraag met ‘n teen-vraag. “Hemingway het gesê die een kat lei na die ander.”

Daar is intussen ook planne om ‘n televisie reeks te maak saam met bekendes en diereredders. Maar dis in die pyplyn. Die diere sketse ten bate van diere welsyn is nóú aan die gang.

Mense wat Tony Ridway wil kontak in verband met skenkings van kunsmateriaal, of gedagtes wil uitruil oor diere help, kan hom kontak by tonyridgway101@gmail.com.

NEWSLETTER

SIGN UP

Do you want to get the latest news from Melkbos.net? Enter your email address and click subscribe.