Deur Danie Botha
Dis net reg dat ek begin beplan. Seker maak die kar is skoon, sy bande goed gepomp en die roof carrier mooi vasgesweis. Toe maar, ek jok sommer oor die bagasierak op die dak.
Dalk ‘n outyse waterbottel voor aan die bumper vasgemaak om die wind te vang en seker te maak jou dors word koel geles? Miskien, ek sal sien.
Ek gaan binne enige dae op ‘n klein Bolandse road trip, en ek wil kyk of ek op pad lekkerder kan eet as by Wimpy of ander padkafees. Dus moet ek dalk my eie kosmandjie pak, soos in die ou dae, die dae toe ons in die 60’s uit Suidwes vir my ouma op George gaan kuier het.
‘n Mandjie waarvan die lekkertes in jou 6-jarige keel gestol het as Pa die gesin met ‘n late 50’s Prefect-karretjie oor die Swartbergpas getoor wou kry. Hy’t onder die Outeniekwaberge grootgeword, tussen Dalene Matthee se olifante, daar tussen Hoekwil en Woodville se donker, hoë bome. Naby Dieprivier se plaasskooltjie. Sy vrou en kinders nie. Hulle kom uit Suidwes se plat ooptes met sy kameeldoringbome en droë rivierlope. Hy lag vir hulle. Húlle is stil geskok en hulle bid. Maar die Prefect maak dit.
Daai soort road trips kon nie gebeur sonder padkos nie. En nou nie oliebolle, Simbaskyfies en Nik Naks nie. Nee. Regte, egte padkos. ‘n Oranjekleurige Thermos-fles met soet swart koffie in, ‘n rottangmandjie met die padkos in. Outydse padkos. Hardgekookte eier (sout en peper in ‘n kleingevoude foelievierkantjie), meat bols, toebroodjies en miskien ‘n blikkie worsies of so. Ook gebakte wors. Die verskeidenheid was nooit groot nie. Maar genoeg om nie honger te raak nie.
Dit het nie gegaan om wat daar in die mandjie was nie, maar om die trip, die gevoel die Prefect jaag jou na wilde avonture by Ouma se huis en die bosse by Wilderness. Ek wil nou vir my klein road trip so pak. Ek wil nie by die mooiste Bolandse padstalletjies stilhou en pasteie of Griekse slaai bestel nie.
Ek wil sommer langs die pad aftrek en die ruite afrol, die berge se blou bekyk, die draadloos ook afdraai en in stil oggende of middae outydse padkos eet. Daai wat Ma, toe ek 6 was, in die rottangmandjie gepak het. Dit gaan lekker wees, ek weet. Dit gaan smaak na Desembervakansies by Hartenbos, na ou stofpaaie tussen Prieska en Marydale – na die veld tussen Ariamsvlei en Nakop.
Oor die terugkeer weet ek nog nie. Maar my heenreis word beplan met ‘n rottangmandjie vol gawe goed en Beatles, en Cliff Richard, en Pat Boone en Debbie Reynolds. For old times’ sake.
Kontak Danie Botha by Danie Botha Language Services / Taaldienste
Hy skryf ook ‘n heerlike blog http://daniebotha.weebly.com/blog