‘n Boek vir Kinders en Grootmense wat nog Kinders is

Handvol van lekker-lees. Foto's: Melkbos.net

Lekker lees! Foto’s: Melkbos.net

Hetta Elizabetta en die Wêreld op haar Skouers is ‘n boek vir kinders en grootmense wat nog soos kinders voel. Dis ‘n storie oor ‘n dogtertjie wat te veel voel en hierdie gevoel bou op tot die boek se klimaks waar sy voel asof sy letterlik die wêreld op haar skouers dra.

Die storielyn sou hartseer kon gewees het, maar danksy die skrywer en aktrise Milan Murray se humoristiese aanslag en gebruik van rym is dit eerder ‘n heerlike kyk na die wêreld vanuit ‘n kind se perspeptief. Ek trap dalk op tone as ek Murray vergelyk met dr. Seuss, maar die verse se humor herinner my aan hom. Hier’s ‘n vers as lusmaker.

illustrasie-1“Sy wonder – Kry branders ook seer as hulle breek?
En wat gaan als swel as ‘n by haar sou steek?
Dink jy die tandemuis
Het ‘n woonstel of ‘n huis?
En kom Al die muise sáám om ons tande te bespreek?”

Dis ‘n wonderlike indink in hoe dit is om kind te wees, en die rym sorg dat dit in ‘n kind se kop gaan vassteek. Die verbeeldingryke illustrasies dra by tot die impak van die teks.

Ek het Milan Murray ontmoet op die dag van Hetta Elizabetta en die Wêreld op haar Skouers se launch in die Hart restaurant op Melkbosstrand. Murray is ‘n Melkbosstrander en sy’s so fyn soos ‘n vlinder en het die vinnige bewegings van ‘n vlinder. Ook ‘n paar blink oë wat mens goed deurkyk – nog ‘n vlinder karaktertrek!

Milan Murray (middel), Charmaine Nole (mede-uitgewer) en Marisa du Toit (die illustreerder) Foto: Facebook

Skrywer en uitgewer Milan Murray (middel), Charmaine Nolte mede-uitgewer (links) en Marisa du Toit, die illustreerder. Foto: Facebook

Die gesprek was effens ongemaklik en die ongemak is veroorsaak deurdat ek haar genader het sonder om myself voor te stel. Mens dink mos altyd as jy ‘n bekende sien dat die persoon jou ook ken.
Ek: “Ek’s mal oor die boek en oor hoe die teks en illustrasies saamwerk.”
Murray (wat moontlik op die stadium gewonder het of ek letterlik mal is): “Die illustreerder bly in Pretoria. Sy WhatsApp die illustrasies vir my. Sy kom nou juis aan op die lughawe om te kom na die launch.”

Die slim mense sal die volgende wil weet oor die boek: Die boek “stel idiome op prettige manier aan die jongspan bekend.” Volgens Murray was dit “die afwesigheid van idiome in kinders se wêreld” wat haar gemotiveer het om te begin skryf aan die Murray & Me reeks. Hierdie is die tweede boek in die reeks.

Die eerste was Pieter Kokkewieter en die Hart op sy Mou. Die boeke is gemik op 6-9 jariges en “die stories poog om Afrikaanse idiome aan die jongspan bekend te stel om verdere gesprek oor lewensvaardighede en waardes aan te moedig. Die karakters is jong kinders wat die wêreld om hulle ervaar en bevraagteken en dus goed aanklank vind by jong lesers.”

Jy kan die boeke aanlyn bestel by www.murrayandme.co.za. Jy mag hulle ook maar self lees en geniet.

 

 

NEWSLETTER

SIGN UP

Do you want to get the latest news from Melkbos.net? Enter your email address and click subscribe.