Magdalene Minnaar se dogter is 23 jaar gelede van haar gesteel. Sy’t een troos gehad waaraan sy vasgeklou het in die jare wat gevolg het. Dat die dief, wat die kind se oppasster was, lief was vir haar kind en haar nie ‘n “werkslaaf” sou maak nie.

Magdalene Minnaar het ‘n hartseer verhaal.
Wanneer Magdalene (51) van Wolwerivier, Melkbosstrand, praat oor haar oudste kind, raak haar gesig stroef. Haar oë kyk stip, asof sy na binne kyk. Haar koppie koffie bly onaangeraak, daar waar ons sit in die Wimpy op die dorp.
Magdalene se dogter, Katya,* (‘n skuilnaam), is van haar gesteel toe sy ongeveer vier jaar oud was. Sy’t haar eers weer op 2 Januarie vanjaar gesien, en toe sukkel dit. Want daar was nie ‘n band nie. Die storie kom in stukke uit.
Net een ding het die twee mooi vrouens in gemeen. ‘n Passie vir hare, want nes Magdalene, wat jare lank in haarsalonne op Melkbosstrand gewerk het, en gedroom het oor geld kry om ‘n haarkapper te word, het haar dogter dieselfde droom.
“Ek het met die MyCiTi bus ingegaan stad toe en haar by die Civic Centre gekry,” vertel Magdalene van die herontmoeting. “Sy wou geld hê, om te gaan hare studeer. R7000. As ek dit gehad het, sou ek dit gegee het.”
Magdalene is deesdae ‘n gemeenskapsleier in Wolwerivier. Sy bly in ‘n sinkhuis, en probeer om minstens een maal ‘n week kos te maak vir honger kinders. Ongeveer 54 kinders daag op so ‘n dag op vir die kos wat sy tans uit haar eie sak betaal. Sy is besig om as ‘n NGO te registreer, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag. Sy sê, miskien is die omsien na die kinders haar manier van Katya se verlies hanteer. Want sy was half mal in die dae nadat sy verdwyn het.
Die vrou was netjies
Die probleem het seker begin op die dag toe sy die vrou in New Woodlands, Mitchells Plain, gevra het om na Katya te kyk. Sy was net ‘n paar maande oud. Magdalene het sopas ‘n werk gekry en geredeneer sy moet dit vat.
Sy’t ook geredeneer dat Katya se pa op Mitchells Plain bly en vir haar kon sien. Daar was nog ‘n oorweging. “Omdat ek gesien het hoe netjies die vrou is, het ek gerus gevoel.” Op die ouderdom van een het Katya ‘n ketel kookwater op haar self omgegooi.” Die kookwater het haar kop en arm getref. Sy moes die volgende twee jaar in die Rooi Kruis hospitaal deurbring. Magdaleen het haar werk gelos om by haar te wees.
Toe Katya uitkom, is sy terug na die vrou in Mitchelsplein. “Vir ‘n jaar het alles goed gegaan en het ek hier in Melkbos gewerk,” vertel Magdaleen. “Ek het gevoel ek kan haar vertrou.” Sy’t planne gehad. Sy sê sy wou Katya terugbring na Melkbosstrand. Sy sou haar mettye by die oppasster laat bly aangesien daar so ‘n band was.
Soos Zephany Nurse
Rondom Katya se vierde verjaardag het Magdaleen na die oppasster se huis in Mitchells Plain gegaan. “Die mense in die straat het my vreemd aangekyk,” sê sy nou. “Toe ek by die huis kom, was hulle nie meer daar nie. Hulle het weggetrek.”
Die woorde klink droog, asof sy al soveel oor die gebeurtenis gepraat het dat haar emosies opgedroog het. Sy sê dat dit haar gemerk het. Sy is oorbekommerd oor haar ander kinders. Verlede jaar het Magdaleen vir Katya op Facebook opgespoor. Daar was die aanvanklike opwinding. En toe die herontmoeting en besef dat sy anders is as wat sy sou wees as sy by haar groot geword het. Sy’t in Eersterivier grootgeword-” sê sy, asof dit ‘n ander wêreld is. Nie ene wat sy sou gekies het vir haar kind nie. “In Zephany Nurse se geval was dit dalk beter dat sy nie by haar regte ma grootgeword het nie,” sê sy. En mens weet wat sy bedoel sonder dat sy verder iets hoef te sê.
Sy drink uiteindelik haar koffie. En dan sê sy half as troos vir haarself, “Ek het altyd gedink gelukkig was die vrou lief vir haar, en sou sy nie ‘n werkslaaf van haar maak nie.”