
Konst. Debi Alard in die trauma berading kamer.
Porno-man in hof
‘n Vermeende pornograaf (34) is op 26 April gearresteer in Melkbosstrand omgewing. Sy arrestasie het gevolg op ‘n gesamentlike ondersoek genaamd ‘Operation Simon’ deur die SAPD se Eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe (GKS) en die VSA se binnelandse veiligheidsdienste. Sers. Delene Grobler van die GKS se provinsiale hoofkantoor in Pretoria het die man gearresteer.
Daar is ook beslag gelê op ‘n tablet en selfoon met pornografiese beeldmateriaal van kinders van verskillende ouderdomme. Volgens konst. Debi Alard van Melkbosstrand kan talle arrestasies nog verwag word.

Die kamer is kinder-vriendelik.
‘n Veilige plek
Melkbosstrand polisie beskik oor ‘n spesiale kamer waarin slagoffers van seksuele misdrywe of geweld berading kan kry. Die kamer is geskik vir trauma berading en het selfs stort en koffiemaak geriewe, en ‘n baba badjie en speelgoed. Die kamer kan egter nie oornag deur slagoffers gebruik word nie. Volgens konst. Alard sal die polisie kontak maak met die nodige instansies indien ‘n slagoffer van geweld tydelik ‘n veilige heenkome, weg van die huis, nodig het.
Mossel-stropers beboet
Vier mossel-stropers is op 14 April betrap met 150 mossels. Hulle was besig om in 6de Laan te stap met hulle buit toe die Melkbos polisie in samewerking met buurtwag en die Sea border Policing Unit hulle vasgetrek het. Die mans is ‘n boete van altesaam R15 000 opgelê.
Koelkop tydens balaclava aanval
‘n Vrou van Duinefontein se nagrus is brutaal versteur toe die balaclava bende Saterdagoggend 23April omstreeks 2.30 by haar ingebreek het. Die mans het toegang gekry tot die eiendom op Otto du Plessis rylaan deur een van die kitsmuur se panele uit te haal.
Die vrou was alleen tuis toe die drie mans, wat met messe gewapen was, op haar toegeslaan het. Sy het gemaak of haar been seer is. In die proses het sy reggekry om die paniekknoppie te druk. Die mans het toe te voet op die vlug geslaan met ‘n skootrekenaar, selfoon en geld. Die vrou het geen beserings opgedoen nie. Die polisie, plaaslike buurtwag en Morningstar patrollie het die aanvallers agterna gesit. Hulle het egter verdwyn in die bosse om Melkbosstrand. Daar word vermoed dat ‘n motor hulle kon ingewag het. Niemand is in verband met die voorval gearresteer nie.
Volgens konst. Debi Alard is daar ooreenkomste met drie onlangse balaclava aanvalle in Table View; daar was ook drie aanvallers betrokke, wat met messe gewapen is. Die mans het met aksente gepraat. Die voorvalle het ook omstreeks 2.30 vm plaasgevind.