Die imposante ou dame het vandag in Melkbosstrand gekuier. Sy was geparkeer naby Orca seekosrestaurant, met haar neus wat wys in die rigting van die eetplek, asof haar eienaar(s) haar wou dophou. Vir ingeval sy kon wegraak.
Karre het verbygery, pynlik stadig. Want mense was besig om te rubber nek vir ‘n vale. Ek natuurlik ook. Die kar herinner my aan die klassieke kar waarin ek gery het as kind. Dit was ‘n wit Zephyr met lipstiffie rooi bekleding en stertvinne en ‘n groot hart – so bietjie soos ‘n filmster uit die Goue Era van Hollywood. Zsa Zsa Gabor. So iemand.
Daar was genoeg plek op die agterste sitplek vir drie kinders en ‘n groot boks soet groen appels van die Langkloof en mens se biblioteekboeke, want selfs as kind het mens geweet dat sommige dele van die pad vervelig is en omgelees moet word! Mens kon kou-kou ry, en die rit – en wêreld – waardeer tegelykertyd.
So ‘n kar is meer as ‘n kar, sal enige fan van klassieke motors vir jou sê. Dis ‘n skulp. Dis ‘n ervaring. Dis déjà vu. Dis ‘n blast from the past. Dis ook eenvoudig deksels mooi, gemeet teen die klone wat tans uitgeworsmasjien word.