
Angie Uys met die meneer wat 213 kg geweeg het.
Melkbosstrand se tuingrond mag arm wees, maar Martin Uys laat hom nie daardeur onderkry nie. Met ‘n handvol pampoenpitte en liefde en geduld kweek hy kampioen pampoene in sy agterplaas. Ja, hier in ons see-grond.
Die pampoen op die foto weeg ‘n tamaai 213 kg. Kyk hoe sukkel Martin se vrou, Angie, om haar arms daarom te kry. Dit was ‘n inskrywing vir Shoprite Checkers se Groot Pampoen Kompetisie. Martin is een van ‘n groot groep pampoen entoesiaste. Die hoof van die Christelike skool op Malmesbury, Willie Taylor, is nog ene. Hy’t selfs al twee plantjies name gegee het. Peter en Pam.

Willie Taylor met Peter en Pam.
‘n Kompeterende spul
Taylor het drie jaar gelede ‘n pampoen van 100 kg ingeskryf vir Shoprite Checkers se Groot Pampoen Kompetisie. Dis ‘n grote, maar dit kom nie by Martin se bielie nie. Op sy beurt kry Martin weer opdraand van ander kompeterende kwekers. Volgens www.grootpampoen.co.za was die wenner van 2015 se pampoenkompetisie ‘n lummel wat die skaal se naald laat bibber het by die 483,6 kg merkie. In 2014 het die wêreldkampioen egter ingeklok op 1054 kg.
Pampoenboere help hulle pampoene se groei aan. Taylor het aan Swartland Gazette vertel dat hy sy pampoene tot drie maal per dag met gifstowwe behandel. Die pampoenplant het net ‘n sekere hoeveelheid water. As mens oorwater, kan jou pampoen bars. Die grond se PH balans moet gereeld getoets word en die plant moet met ‘n skadunet bedek word om dit teen voëls en son te beskerm. Volgens Taylor het hy sy pampoen onder meer vis-emulsie en seewier gevoer…
As jy ‘n sterk rug het is dit okay

Die pampoene is dekor.
Asof dit nie genoeg is nie, moet daar ook besluit word hoe om die pampoen op te tel, wanneer die tyd reg is. Hier’s ‘n tip. Werk ‘n strategie uit. Kry ‘n span mense met sterk rûe wat nog nie van die woord ‘chiropraktisyn’ gehoor het nie, en gebruik iets soos ‘n kombers om die pampoen mee op te tel. Een entoesias het selfs ‘n spesiale tipe hyskraan gebou om sy bielie mee op te tel.
Dis ‘n wonderlike tydverkryf as jy hiervoor kans sien. Angie sê sy sal Martin vra of hy nie lus is om tog vanjaar ‘n paar pampoenpitte te plant nie.
Bykomende bronne: Swartland Gazette en www.livingseeds.co.za, www.grootpampoen.co.za.