Siri die kat het uiteindelik ‘n “for ever”-tuiste gekry. Maar dis te laat. Nadat die ou kat ‘n ruk gelede in Olive Close op Melkbosstrand gered is, is ontdek dat sy kanker van die neus het. Dis ver gevorder, verduidelik Elmien Vermeulen van Peanut Animal Welfare op die dorp. Baie buite-diere doen kanker van die neus en oorpunte op weens blootstelling.

Siri het uiteindelik ‘n for ever-tuiste gekry. Maar dis te laat…
Vermeulen sit met ‘n krisis. Peanut Animal Welfare benodig dringend foster huise en donasies. Dis die gevolg van die vloedgolf van verwaarlosing en mishandeling waarmee hulle te kampe het.
Diere word nie gesteriliseer word nie, verduidelik Vermeulen. Middelklas eienaars maak hulle net so skuldig soos armes hieraan. Ander probleme sluit in dat mense afskaal, en nie hulle diere kan saamneem na kleiner woonplekke nie. Die diere land by plekke soos Peanut Animal Welfare, wat vir hulle nuwe huise moet kry. In ander gevalle kom mense van plekke sover as Plattekloof om diere hier te ‘dump.’ “Of hulle trek weg en los hulle diere agter, of sterf,” vertel Vermeulen.
Baie diere sukkel om weer huise te kry. In die geval van katte soek mense oor die algemeen na oulike klein katjies, berig Mirinda de Jonge, wat diere foster. Sy gee tans vir Siri die kat haar ‘for ever’-tuiste. Dit gaan moontlik van korte durasie wees, want sy vertel dat die veearts Siri se neuskanker net drie maal behandel het, en toe verklaar het dat dit te ver gevorder is.
“Sy’t drie plekke waar sy lê,” vertel De Jonge gevoelvol. “Een is op my bed. Sy eet verskriklik goed. Sy slaap by my. Sy purr. Sy het geen lyding nie. Sy is baie liefdevol. Die beste is op die stadium om haar te bederf, om haar iets lekker te gee soos ‘n stukkie hoender.”
Stel jy belang om te help? Kontak Elmien by 0827384845; Christa by 082 859 1546 of Michelle by 073 300 5100 of epos info@pawelfare.org