Verveeld? Ry ‘n end op in die weskuspad, verby Atlantis, na Mamre. Jy’s nou amptelik in die Stadige Laan…
Dis laat Vrydagoggend wanneer ons kar stilhou voor die ou sendingstasie kerk

Die sneeuwit interieur van die geskiedkundige kerk.
op Mamre. Louise Josephs het sopas die binnekant van die kerk ge-hoover. Die groot kerk met sy glimmende houtwerk, ou orrel en sneeuwit mure en gordyne wag op ons komplimente.
Dis ‘n besige kerk, vertel Louise. Die betrokke Sondag word die Passiespel om drie uur hier opgevoer. Vanuit die kerk vertrek die akteurs na die begraafplaas, waar die akteur wat Jesus speel met tamatiebloed besmeer word en gaan staan voor ‘n kruis. Saterdagoggend word drie mense begraaf. En verlede Saterdag is ook begrafnis gehou, “want baie mense gaan hier dood aan kanker.”
Ons skud ons koppe. Vermoedelik is die sterftes die gevolg van hoë ouderdom?

Louisa Josephs hou die kerk so skoon.
Die uurglas wat leegloop op ‘n natuurlike manier en geen komplot nie? Die kerk is omring deur verskeie Kaap-Hollandse geboue, waaronder ene as ‘n koffiewinkel bedryf word. “Jacobs koffie?” vra die jong waitress. ‘n Keuse van tjoklit en wortelkoek en scones wag op ons. Dis moeilik om te kies, man.
Die toneel om ons is rustiger as rustig. Mens se bloeddruk daal tot hier onder in die kelder. “DJ G kom Vrydagaand hier optree,” sê Laetia asof sy eintlik bedoel, moenie geflous wees deur die stilte nie. Die plek gaan ruk.
Wel, op ‘n manier ruk die plek reeds. ‘n Paar meter vanaf die sendinggemeenskap vergader ‘n groep vrouens onder ‘n boom. Hulle luister aandagtig hoe ‘n vrou van ‘n organisasie genaamd Shared Wealth belowe om in hulle huise te kom kyk hoe dit gaan.
In die middel van die dorp is nog ‘n groepie mense, al sittende onder ‘n

Laetitia Ockers van die Lief en Leed klub vir gestremdes.
gazebo. Dis lede van die Lief en Leed klub vir gestremdes. Laetitia Ockers doen die praatwerk terwyl sy wors braai “van die plaaslike slaghuis,” en hot dogs maak. Sy vertel die agtergrond van die muffins wat in pakke te koop is. “Dis R10 per pak, dis gebak deur my 12-jargie dogter. “Vir fondse vir grond en ‘n tehuis. Ons glo dit sal nie lank vat nie.” Ek is seker ek het dit al vantevore gehoor. Jare gelede.
Dis die ding van die platteland. Mense leef nog in hoop. Wanneer mens op so ‘n plek soos Mamre aandoen, ervaar jy ‘n deeltjie daarvan.