
Jak J. Brits en Anushka Life.
‘n Artikel oor die sanger en liedjieskrywer Jak J. Brits sou kon begin met iets soos, “Plaaslike sanger gee vertoning by die Galloway Teater by Kaapse Waterfront.” En dat Jakkals Song beloof om nog beter te wees as die vertoning wat hy daarvan by 2015 se Woordfees gegee het omdat “hier meer liefde betrokke is, en dit is dus beter.”
Mens sou kon. Maar dan sou jy die punt mis. Die Jak wat soos Johnny Depp lyk in sy fedora en swart-en-wit uitrusting. Die Jak wat laatmiddag in Marinello se kroeg in Melkbosstrand waarsku, “Ek praat nogal baie,” voordat hy begin praat soos ‘n langspeelplaat.
Jakkals Song duur vanaf 28 Julie-30 Julie. Dis net drie dagies. Maar dis oor drie dae, en by ‘n belangrike venue, en dus is Jak se kop vol van dit. Omdat hy voltyds werk is sy vertonings min, en dus meer waardevol vir hom. Hy beskryf die komende vertoning as, “Op ‘n manier is dit my verjaardag geskenk aan myself. Ek kon ‘n leerbaadjie gekoop het. Dit sou goedkoper gewees het.”
Op ‘n kreatiewe reis
Melkbosstranders ken vir Jak moontlik eerstens as die operasionele bestuurder van die Damhuis restaurant, en tweedens as musikant. Sy werk by die Damhuis het vir hom buitengewone kollegas gegee. Mede-bestuurder Bev Maritz was verantwoordelik daarvoor dat die bekroonde drama Die Naamasjien op die planke gekom het; die skrywer Reinet Nagtegaal het hom ondersteun op sy kreatiewe reis deur te sê, You find a way.” En hy wat Jak is het die woorde sy eie gemaak, maar sy eie stukkie bygevoeg, “You find a way and then you will lose your way.” Grootbaas Dirk, die skrywer en eienaar van die Damhuis, het nou die aand saam gegaan na ‘n dansvertoning. Mens sou kon sê dat Jak omring is deur goeie feë.
Hy leun behaaglik terug in sy leerstoel en praat oor kunstenaar-wees in Suid-Afrika. Dis skisofrenies. Mense sê vir hom hy moet ‘fokus op een ding. Maar op watter ene?” sê-vra hy. “Op my werk, wat vir my geld verdien? Of op my skryfwerk?” Jak skryf in Engels en Afrikaans. Stories, dramas, enigiets. Van sy skryfwerk stuur hy na Amerikaanse uitgewers.
Moenie na my show kom as jy nie van my hou nie
‘n Jongvrou sluit by ons aan. Dis Jak se vriendin Anushka Life. “Life soos in lewe, want sy borrel oor van lewe,” verduidelik hy. “Hier’s iets vir jou, Skat,” sê sy. Dis ‘n geskenk vir sy verjaardag van gister. ‘n Serp in ‘n sagte swart wat sal pas by wat mens vermoed is ‘n kas vol van oorwegend swart klere.
Vir Jakkals Song maak Jak ‘n uitsondering. Hy het twee nuwe baadjies wat Steven Jooste onder sy nuwe handelsmerk Joos (uitgespreek Juice soos op Engels) ontwerp het, waarvan ene in goud is. “Die lang tye tussen vertonings dwing my om asem te haal en te dink,” sê hy. Dit maak die vertonings nog belangriker.
“Ek sê vir mense, as julle nie van my hou nie, moenie na my show kom nie. My karakters gaan deur wonderlike goed. Soms kry ek hulle so jammer.” Jak se drama Veertig het sommige mense kwaad gemaak omdat Anushka, wat in haar vroeë twintigs is, die rol van die veertigjarige hoofkarakter vertolk het. Jak trek sy skouer op. Deal with it, sê die gebaar. Skielik is hy nie net kunstenaar nie, nie net die sensitiewe laaitie wat geweet het hy moet van die rugbyveld by die skool kom voordat hy vermorsel word nie, maar hy’s taf.

Die lyftaal is kenmerkend. Foto: Verskaf
Die ware Jak
Wie’s die ware Jak, dan? “Ek probeer nie ‘n Laurika Rauch wees nie, ook nie ‘n Koos Doep nie. Ek is nie so somber soos hy was nie. Moenie my misverstaan nie. Ek is mal oor hom. Maar hy het swaar gekry; ek kry nie swaar nie. Ek kom uit ‘n ander mindset.”
“Ek voel mees aangetrokke tot Afrikaans soos hy in die Voëlvry jare was. Dis nog nie dood nie, hy’t ‘n nuwe baadjie aan. Ek en Johannes Kerkorrel het dieselfde manier van kyk na musiek.”
En hier’s Jak nou by sy punt, “Die moeilikste ding is om ‘n stempel te los. Ek het vir Nataniël gevra wat ek moet doen. Hy het gesê: Wees net jouself.” Die jongman in die stoel langs my leun nog verder terug in sy stoel, indien dit moontlik is. Stoot sy ken op in die lug in ‘n kenmerkende gebaar. Dis wat hy besig is om te doen, weet hy.