
Karen Dreyer (links) en twee van die Happy Hookers. Foto’s: Marnette Meyer
Die Happy Hookers van Bloubergstrand en Table View het verlede week weer mense gelukkig gemaak. Maar hokaai voordat jou mond oopgaan in ‘n geskokte ‘oo.’ Die Happy Hookers is ligjare verwyder van die wat paradeer in Amsterdam se Walletjiestraat. Hulle brei en hekel komberse vir welsyn, en het juis weer skenkings op Melkbosstrand kom maak.
Die groep, wat twee jaar gelede deur Di Joseph begin is, brei en hekel komberse vir mense wat in nood is. Die nood kan emosioneel wees. Dit kan die eensaamheid wees wat ‘n bejaarde ervaar wat sy lewensmaat mis en die winter iets warms soek om saans in die bed vas te hou.

Elke kombers het ‘n naam.
Sedert hulle onstaan het die Happy Hookers omtrent gewoeker. Hulle het reeds 350 enkelbed komberse gehekel en gebrei, en geskenk. Elke kombers het ‘n naam. Die naam het te doen met die kleur van die kombers, maar soms raak dinge liries soos die volgende name wys. Moroccan Meander, Ice Cream, Lollipop, Namakwaland Flowers, Ooh la la. Die name maak mens lus om onder die komberse te slaap. Dit laat mens dink aan soet drome.
Elke kombers word in ‘n Woolworths sak wat van seilmateriaal gemaak is verpak. Dis ‘n paket, kan mens sê, en dit is ‘n trotse ene. Dit kos ‘n goeie R250 vir die wol, vertel die vroue. Hulle arbeid en tyd is gratis. Stel jou dit voor in hierdie winsbejagte tyd.
Verlede jaar het die Happy Hookers 45 komberse geskenk aan Melkbosstrand se Gemeenskapsake. Die komberse is geskenk aan bejaardes in Ou Skip karavaanpark. Vandeesweek het die vroue 15 komberse kom skenk. Karen Dreyer van Melkbosstrand Gemeenskapsentrum het die komberse in H❤rt Breadhouse & Eatery in ontvangs geneem. “Die groep van wonderlike eksentrieke vroue-“ is hoe sy die Happy Hookers beskryf.
As jy geld wil skenk vir die Happy Hookers, kan jy dit deur middel van Karen Dreyer doen.
Kontak haar by 082 415 5442.