Hoekom neuk mens met skrywer wees? Dis die vraag wat baie skrywers (en hulle gesinne) vra. Dis die vraag wat die uitgewer en skrywer Anna Emm gisteroggend in Plattekloof aan ‘n groepie van haar skrywers gestel het.
Hoekom skryf ons stories terwyl die ekonomie druk en die droogte die land uitdor en die wêreld tande kners?
Verloor my hoenders as ek dit nie doen nie
Anna, wat al meer as 2 000 nuwe kinderstories op CD, DVD en in boekvorm geskryf het, asook ‘n memoir en nou twee volwasse boeke, antwoord haar eie vraag: “As ek dit nie doen nie, verloor ek my hoenders. Dis waar ek vasklou aan myself sodat ek nie wegspoel in die stroom nie.” Die skrywers wat oorkant haar op die lang swart bank sit, knik. Hulle ken die gevoel van: “Is dit DIT? Is dit al?!”
Dis hoekom Hanlie de Wet die gewilde Meelon reeks skryf, hoekom Minique Gutshchow Help! Ek het my pa gekrimp! geskryf het, hoekom Corlie Putter Professor Frisco se Penarie geskryf het, en hoekom Elani Venter Deur die Digitale Orbis geskryf het. Hulle is besige vrouens. Hulle kon almal iets anders gedoen het!
‘n Bubble in die storm
Anna praat van wat skryf beteken. “Jy gee vir jou leser ‘n bubble in die storm omdat jy vir jouself ‘n bubble geskep het. Vir jou leser het jy ‘n uur uit die storm oopgekap.” Dis oor “Spasie create vir mense. Oor balans bring aan die einde van ‘n lang, tawwe dag. Dis oor me time vir mensself, wat uitdraai om me time vir ander mense te wees. Jy kan kies jy gaan saam met die stroom. Of jy kies en sit iets neer.”
Die praatjie eindig met drinkgoed en eetgoed. En iets meer. Ons kon gaan inkopies doen het of huis skoongemaak het, maar ons het iets vir onsself gedoen deur hierheen te kom onsself te herinner waarom ons ons beste ding doen.