Herinnering: Die Waterbul Poeding het die dag laat Af-Rat

Hoe vinnig eet jy? Ekself eet sommer so bo-oor my rekenaar, wat IT-mense malmaak as die krummelreën neerstort tussen die klawers. Maar dit beteken nie dat ek nie van beter weet nie!

Ek onthou nog die dae van stadig en ritualisties kou aan lekkernye soos die Waterbul poeding. Vir diegene wat dit nie ken nie. Dit was so ’n DING wat my Ouma Rosie gebak het. Dit het ’n braaiskottel vol gemaak en as mens vinnig gekyk het, het dit gelyk soos ’n kalf in ’n put, met ’n glinster-sousie daaroor. Dit was lekker genoeg om mens hoogliedere te laat sing aan Huletts suiker.

Ons het geëet in die formele eetkamer in Bloemfontein. Dink bal-en-klou stoele en hope craft in blou, want Ouma Rosie was ’n naaldwerk-inspektrise op haar dag en het naald en garing aan alles geslaan. Sy’t selfs ’n aandeel gehad aan ’n tuisnywerheid genaamd Die Rooi Vingerhoed, wat naamgewys so half ’n voorloper was van my skryfdiens Redwritinghood. Of so verbeel ek my.

Hy’t geëet teen die spoed van ’n vinnige Internet konneksie
Sy was alles wat ek nie is nie. Menende sy’t vier uur soggens, terwyl die leeus brul in die dieretuin daar naby, gestaan en bak vir die tuisnywerheid. Iewers tydens die dag het sy gaan werk by die tuisnywerheid. En nog iewers het sy koningsmaaltye gekook vir die honger De Jagers. Hoekom skryf ek hieroor? Ek het nou pas met my pa gepraat. Hy’t binne ’n half uur middagete geëet by die eetsaal van die aftreeoord waar hy bly op Mosselbaai, en in die tyd ook heen en weer gestap.  Volgens my berekening beteken hy’t geëet teen die spoed van ’n vinnige Internet konneksie.

Die faro aan die hoof van die tafel
En dit laat my toe dink aan toeka. Die donker, formele eetkamer. Die bal-en-klou stoele. Die stadige ritme van eet, in ’n tyd waar eet ook ’n ritueel was en Oupa aan die hoof van die tafel gesit het soos ‘n faro, en ons beter geweet het as om klaar te eet voor hom. En die Waterbul se salige soetigheid in my mond terwyl my insulien vlakke mal gaan en die dag af-rat en stadig raak.

En ek wonder nou. Gaan ek ooit weer in my lewe ‘n Waterbul poeding eet? Gaan ek ooit weer so ‘n oomblik beleef?

NEWSLETTER

SIGN UP

Do you want to get the latest news from Melkbos.net? Enter your email address and click subscribe.