Gerrie Coetzee, ons Mis Jou

Beste Gerrie,

Gerrie Coetzee aka die Gentle Giant.

Gerrie Coetzee. Foto’s: Facebook

Ek skryf vir jou hoewel ek glad nie iemand is vir sport nie. Maar noudat ek dit gesê het, moet ek my woorde kwalifiseer. As tienermeisie in die 70s het ek ‘n sagte plekkie vir groot manne met bultende spiere gehad. Vir kampioene. Jy was mos ene. Jy was die ene wat genoem is die Boksburg Bomber…

Ons het meestal na bokswedstryde geluister op die dra-radio in die sitkamer. Die wedstryd wat ek die beste onthou is een middag uitgesaai, wat my laat dink dit was dalk tydens jou Amerikaanse fase. Jy’t baklei soos ‘n leeu en die radio het begin neuk, want dit was ‘n goedkoop nommertjie van Pep Stores op die dorp.

Gerrie 'boks' vir die pret.

Gerrie ‘boks’ vir die pret.

Bo die geskree van die ekstatiese skare (is alle skares altyd ekstaties?) was statiese elektrisiteit. So ‘n vuil geruis. Ek het die radio vasgeklem en agtergekom dit laat die statiese elektriese klank weggaan, maar as ek opgehou druk het, het dit teruggekom. My pa was onbewus van wat my wetenskaplike afleiding was, en het opgemerk, “Oo, jy is opgewonde,” of so-iets.

Daardie middag bly my by
Meer as 35 jaar later wonder ek oor jou, en dink ek aan jou en daardie middag. Ek het vir jare gedink jy bly hier op Melkbosstrand, in een van die glas-en-baksteenpaleise op die see-front. Man, ek was oortuig daarvan dat jy op die see-dorp bly. Ek was seker ek het jou daar sien stap met jou spaniel.

Toe lees ek dat jy in Table View bly. Dit moes ‘n fout wees, het ek gedink, die plek is te ingehok vir jou, jy het ruimte nodig om jou. Ek het jou naam in Google se boksie getik, met ‘Melkbosstrand’ daarby, asof ek Google probeer dwing het om jou op Melkbosstrand op te spoor. Die soektog het my laat afkom op ‘n NG kerk nuusbrief waarin ‘n brokkie verskyn het oor ene Gerrie Coetzee wat so baie trourokke gemaak het.

Die tannie was net so geheimsinnig

Toe kom ek af op die ander Gerrie Coetzee.

Die ander Gerrie Coetzee.

Ek het gaan rondvra op die dorp oor die vrou genaamd Gerrie Coetzee, maar niemand het geweet van wie ek praat nie, selfs nie tannie Mary Poppe van die naaldwerkwinkel nie. Sy’t ‘n leidraad gegee, egter. “Miskien is Gerrie nie haar regte naam nie.” Nog iemand het voorgestel ek moet die NG kerk dominee vra wie Gerrie Coetzee is wat so trourokke maak. Ek het ophou vra na die vrou met die bokser se naam, voordat daar ‘n gerug ontstaan dat ek tatie is.

Ewen’t wel, ek het vir jou ge-inbox, Gerrie, maar ek sien jy’t nie die brief oopgemaak nie. Ek wou net sê ek sien hoe lief jou fans nog vir jou is; hoe jy nog die champ vir hulle is en hoe hulle jou uitnooi om na hulle gims te kom. Ek het die foto’s van jou in Amerika gesien, en van jou wat jou spaniel vashou. Julle lyk na mekaar, beide met sielvolle bruin oë.

Dis al wat ek eintlik wou sê, Gerrie. So dis okay dat jy nie my boodskap geantwoord het nie. Dankie vir die fights wat jy gewen het toeterentyd. Jy’t my tienerhart vinniger laat klop daardie middag toe die skare skree en die statiese elektrisiteit ingeskop het, en ek geglo het daar is nog reuse.

Vriendelike groete
Linza de Jager

NEWSLETTER

SIGN UP

Do you want to get the latest news from Melkbos.net? Enter your email address and click subscribe.