
V.l.n.r. is Annaleen van Coller van Melkbos Neighbourhood Watch, Konst. Debbie Alard, Shaun Abrahams, Bokka en Lizette Pietersen. Foto’s: Marnette Meyer
Winter is swaar as jy arm is. Vra vir mense soos Bokka en Shaun wat in die informele nedersettings oorkant die R27 woon en droom oor ‘n huis en ‘n dak wat nie lek nie.
Na dae van swaar reën is dit genadiglik droog wanneer Melkbos.net die plaaslike polisie en buurtwag vergesel na die nedersettting om kospakkies uit te deel. En terwyl Pedro Wilson aka Bokka op die dak ‘n lekplek regmaak, wys Shaun Abrahams na die dokument in sy hand. “Dame, ek sal baie bly wees as jy kan uitvind of dit ‘n legal vorm is” sê-vra hy.
“Apparently in 2018 kom die huise”
Die vorm kry boeties en sussies, want die mense van die klein nedersetting het almal ‘n vorm gekry om aansoek te doen vir ‘n huis. “Ons het al vantevore ook ‘n vorm ingevul,” sê Shaun. “Maar dit het verval. Apparently in 2018 kom die huise.” Hy klink onseker, asof hy dit al vantevore gehoor het.

Lizette Pietersen met baba Du-Hayden.
Bokka het styf-styf van die dak geklim. Hy kom praat saam. So ook Lizette Pietersen, die ma van baba Du-Hayden wat ‘n vel uitslag het waaroor gespekuleer word. “Wat my bekommer is dat hierdie vorm drie bladsye het en myne net twee,” sê iemand. “Wag, myne is skoon. Ek het dit nog nie ingevul nie,” sê Lizette. Die mense neem ons in die shacks in om te wys hoe hulle leef.

Kyk hoe lek die dak in die slaapgedeelte.
‘n Groot blou plastiek kan driekwart vol reënwater staan in die een shack se slaapgedeelte. Dis wat ingelek het met die swaar reën. ‘n Klein kind sou in dit kon verdrink. Die shacks is netjies, maar van privaatheid is hier niks nie. Beddens is opmekaar ingedruk. ‘n Mooi tekening in kleurpotlood hang bokant ‘n bed asof om te wys dat hierdie mense is met siele en drome en hoop – hoop om eendag kleur en mooigeit om hulle te hê.
Die mense vertel van hulle siektes. Dis siektes wat gepaardgaan met armoede en sommer met menswees. Die ene het TB, baba Du-Hayden het ‘n lastige vel uitslag wat enigiets kan wees vanaf ekseem tot “puisies wat loop op die vel” of “’n kiem is wat loop onder die vel, ” nog iemand het “hoë bloed.”

Du-Hayden kyk na die wêreld uit moeë oë.
Te veel jakkalsies in die wingerd
Alles sukkel as mens so arm is. Gas is ‘n teer punt, want dit raak op en dan moet mens hout gaan soek. Water is ook ‘n teer punt, want die mense gaan haal water in 20 liter-kanne wat hulle in die kruiwa stoot, en die water raak groen en moet dan gesif word. “Nee, ons kook dit nie, laas week was my maag omgekrap heel week,” sê Bokka, asof hy wil beduie daar is net te veel jakkalsies in die wingerd van armoede om elkeen te beveg.