
‘n Skenking van voer. Foto: Agri Wes-Kaap
“Ons is baie bekommerd oor die seisoen wat voorlê, ” sê Agri Wes-Kaap se kommunikasie bestuurder Jeanne Boshoff. En die boere se geld is op. Hulle oorleef tans met behulp van skenkings.
Die treurmare sal bekend klink vir boere in die Weskusdistrik en Sentraal-Karoo wat reeds tot droogte rampgebiede verklaar is. Die waarheid is egter dat die droogte al lank aanhou en dat die gebied noord van Vredendal al sedert Novermber verlede jaar “opgedroog het as gevolg van die droogte,” sê Boshoff. Die gebied het vanjaar weer bitter min reën gehad. Om alles te vererger verkeer veeprodusente steeds onder geweldige druk en hulle het veevoer krities nodig.
Oorleef met behulp van skenkings
Daar’s bietjie uitkoms. Boshoff sê, “Ons het die afgelope twee weke weer voerskenkings ontvang van produsente in ander dele van die Wes-Kaap wat nog bietjie voer beskikbaar het. Ons het vanoggend ‘n vrag na die Kliprand-omgewing geneem wat tydelike uitkoms aan daardie boere sal gee.”
Voer en vervoerkoste is egter geweldig duur, sê Boshoff. “Ons maak tans op kontantskenkings staat om nog voer te kan skuif, ook na die Beaufort-Wes-omgewing waar veeboere in dieselfde situasie is. Die reënseisoen is verby en dit was reeds baie warm in die gebied. Ruvoer is al byna onbekombaar, maar ons kyk steeds waar ons voer in die hande kan kry.”
Boshoff wys daarop dat nasionale regering geen hulp verleen het aan die boere nie. Die Departement van Landbou Wes-Kaap het egter beide die kommersiële en opkomende boere bygestaan.
Persone wat tot Agri Wes-Kaap se droogtehulpfonds wil bydra, kan soos volg inbetalings maak:
Rekeningnaam: Agri Wes-Kaap
Bank: ABSA, Paarl
Rekeningnommer: 400 960 313
Takkode: 334 210
Rekening: Tjekrekening
Verwysing: Voorletter, Van, en die woord Droogtehulp
Enige voerskenkings is ook welkom, en persone kan Agri Wes-Kaap by 021 860 3902 skakel.