
Sonja Smith: “Dit is my nalatenskap.”
Oom Renier Groenewald van Melkbosstrand wat so strand skoonmaak, is nie die enigste een in die gesin wat die wêreld probeer verbeter nie. Sy dogter Sonja Smith is op die punt om die regering in die hof aan te vat oor ‘n barbaarse wet wat ouers verhoed om hulle doodgebore babas te begraaf of te veras.
Sonja, die besturende direkteur van Sonja Smith Elite Funeral Group, vertel dat haar mikpunt is om die Wet op Geboortes, Sterftes en Huwelike van 1963 verander te kry. Die wet spesifieer dat babas jonger as 26 weke (6 maande) weggegooi word as mediese afval. En mense maak reeds hulle beursies oop om die nie-profyt organisasie Voice of the Unborn Baby, wat sy vir die doel gestig het, te help met hul komende regstryd. Sommige laat geld na vir die saak in hulle testamente.
Sonja vertel vir Melkbos.net. “Hierdie baba-kwessie van ons is op pad Hooggeregshof toe. Die aansoek word geloots sodra ons die nodige fondse ingesamel het om te help met die regskostes.” Sonja se regspan het in September verlede jaar briewe gestuur aan die ministers van Gesondheid, Binnelandse sake en Omgewingsake. Die regspan wag tans vir die finale verslag van ‘n deskundige.
Barbaarse wet
Volgens die Wet op Geboortes, Sterftes en Huwelike van 1963 word babas jonger as 26 weke beskou as mediese afval. Die babas word saam met geamputeerde ledemate, organe en mediese afval verbrand tensy die dokter of ginekoloog hom of haarself in gevaarstel en ‘n doodsertifikaat uitreik vir die baba. Die situasie is in skrille kontras met die in Europa en Amerika.
So vergelyk ons met ander lande
Frankryk het reeds in 2008 doodgebore babas onder die ouderdom van 22 weke die reg gegee om gedoop te word en selfs ‘n ID nommer te kry.
Baie Amerikaanse state het hulle wetgewing verander t.o.v. vroeggeborenes. Ouers kan nou hulle kinders begrawe, ongeag van hoe oud hulle is.
Lidlande van die Europese Unie moet ouers van doodgebore babas die keuse gee om hulle te begraaf of veras.
Sonja hou vol, “Ouers moet ‘n keuse hê oor wat met hulle babas se lyke gebeur. Dit is my nalatenskap.”
Wil jy help om Voice of the Unborn Baby se regskoste te dek?
The Voice of the Unborn Baby se bankbesonderhede is:
The Voice of the Unborn Baby
FNB Centurion
Current Account 62607860104
Reg. No. NPC 2015/305646/08