Dine van Zyl se Lamsboud

Dine van Zyl se lekker lamsboud.

Dine van Zyl se lekker lamsboud.

“Hierdie week het ek by die VLV by Rietpoel in die Overberg gepraat met hulle 58ste verjaardag. En met tipiese boere-gasvryheid, is ek oorlaai met geskenke. Daar was die lekkerste beskuit, en daar was tuisgemaakte kaas van Desiree Kingwill van Riviersonderend, van Jerseymelk gemaak.

Tannie Christie Groenewald het ‘n melktert gebak wat Graham in verwondering laat sê het, dis die mees imposante melktert wat hy ooit gesien het. Blaardeeg wat lagie op lagie omkrul, met die melkpap binne-in egalig en geurig. Ek het nog nooit tevore so iets fantasties geproe nie. En nee, ek het nie die resep nie, ek wens ek het dit gehad.
Christel Viljoen het ‘n lamsboud van lekker Overbergse vleis gegee en ek gaan dit hierdie naweek gaarmaak volgens Helena Swart se metode:

1 lamsblad of -boud
5 ml (1 t) koljander, gestamp
5 ml (1 t) growwe sout
2,5 ml (½ t) varsgemaalde swartpeper
30 ml (2 E) kookolie
4 groot wortels, opgekap
1 groot ui, opgekap
6 preie, opgekap
6 aartappels, geskil
1 knoffelbol, deurgesny
500 ml (2 k) vleisaftreksel

Die lamsbladjie word eers lekker met koljander, sout en peper bestrooi. Braai die bladjie in die kookolie in die platboompot tot dit geelbruin vertoon. Haal uit die pot en braai die wortels, uie en preie tot dit begin verkleur. Voeg die aartappels by.

Sit die lamsblad op die groente in die pot. Die twee helftes van die knoffelbol word so heel ingesit. Giet die vleisaftreksel in die oondskottel, sit die deksel op en steek vir ongeveer 3 uur in die oond teen 140 °C. Haal die deksel af en braai nog ’n uur, tot alles mooi bruin is. Die vleis sal murgsag wees en van die been afval.

Jy kan die hele besigheid natuurlik in jou platboom swartpot maak, sit sommer so ‘n paar koletjies op die deksel ook.
Helena bedien die boud met gepekelde suurlemoen en die resep daarvoor word in Die Groot Boerekosboek 2 gegee, wat in Julie verskyn. Gie-gie, ek het dit nie eintlik vir bemarking bedoel nie, maar nou weet jy om dit te bestel.”

Vir meer inligting oor kos en alles wat met kos saamgaan in Dine se wereld, besoek www.dinevanzyl.co.za

.

NEWSLETTER

SIGN UP

Do you want to get the latest news from Melkbos.net? Enter your email address and click subscribe.