
Jolene van Wyk: ‘n Huis vol van kleur en tekstuur. Foto’s: Linza de Jager, Jolene van Wyk
Jolene van Wyk is die stigter van die Facebook groep ‘Ietsie mooi in my Huis’ wat net onder die 16 000 lede het. Sy’t die groep eendag terloops begin, maar moes nou al die poorte toemaak en dit ‘n geslote groep maak vanweë die getalle wat net bly groei.
Jolene is vreesloos wanneer dit by dekor kom. Dis dalk die rede vir die sukses van haar huis hier teen die heuwel bokant Bloubergstrand. Wat ‘n minimalistiese dubbelverdieping huis met ‘n see uitsig was, is nou ‘n ryk tapisserie wat mens lok.

Sal ek dit so sit? Foto’s: Jolene van Wyk

Of lyk dit eerder beter so met die Tretchikoff?
Die idee om die groep te begin het ontstaan toe Jolene, wat ook skilder en klere ontwerp, eendag besig was om foto’s te neem van haar huis. Sy’t besef sy wou haar liefde vir mooi goed met ander mense deel. “Ons het mos almal ietsie mooi in ons huis waarop ons trots is,” verduidelik sy.
Dis ‘n tipe susterskap, ‘n klub
Deesdae plaas sy sowat drie foto’s ‘n dag van verskillende uitstallings in haar huis, met kort storie’tjies daarby. Ander lede van die groep doen dieselfde. Dis ‘n tipe susterskap, ‘n klub, ‘n ondersteuningstruktuur. Eenmaal per kwartaal word die groep ook ‘n tipe aanlyn-winkel, en verkoop die klomp dekor fundis items aan mekaar.
Twee Pep Stores rame het alles begin

Hier wys Jolene haar verjaarsdagspieël.
Die groep se deurbraak het gekom die dag toe sy foto’s plaas van twee Pep Stores foto rame wat sy geverf het, met verduidelikings daarby van wat sy gedoen het. Die foto rame is op die oomblik te sien in haar voorportaal, naby ‘n welkom teken en ‘n beeldjie van Moeder Maria. Laasgenoemde suggereer dat Moedersdag op pad is. Oor die Paastydperk was hier ‘n uitstalling in die voorportaal wat onder meer ‘n kruis en ‘n handvol geroeste spykers ingesluit het. Jolene, meester van eklekties, het dit laat inpas saam met die muur wat osbloed-rooi is, die groot raam met die vergulde spieël en haar motorfiets. (Sy’t twee ysterperde.)
Steur haar nie aan handelsmerke
En hier’s nog ‘n geheim. Sy steur haar nie aan handelsmerke of duur pryse nie, en sy het die moed van haar oortuiginge.

Die geslote groep Facebook vriende deel foto’s van hul interieure.
Sy stal alles, vanaf vintage Frans tot Pep Stores-prente raam tot beelde van brons en hout wat tydens hulle verblyf in Nigerië en Iran gekoop is, saam uit. Dit vorm ‘n heerlike potpourri van die lewe.
Jolene se dekor geheime:
• “Ek wys vir mense jy kan goed gebruik wat andersins in jou kas sou bly.
• Jy gaan in ‘n meditasie is, soos as jy verf. Dis soos ‘n doek wat jy voorberei. Wat so wonderlik is, is die krag wat jy uit dit kry.
• Ek het niks met snobisme of brand value te doen nie. Ek glo goed kom na jou, as dit so bedoel was.
• Ek volg nie ‘n spesifieke persoon nie, maar ek hou van die Franse vintage styl, waarby ek my eie eksentriekheid inbring.
• Oo ja, jy maak baie foute waaroor jy berou het. Goeters wat jy verkeerd koop en dan huil jy daaroor omdat dit duur was. Ek probeer dit inkorporeer of ek verkoop dit.
• Ek skuif die meubels en dekor gereeld rond.”