Colyn maak lekker Corn Dogs

Hier’s nog ‘n lekker resep en storie uit die kombuis van die bekende sjef Colyn Serfontein van Colyn maak Man Kos faam.

Corn dogs

Deur Colyn Serfontein

“Man Kos is mos iets wat maklik geëet kan word. Jy vat dit sommer so met die hand en daar gaan jy. Nou hierdie Amerikaanse snaxie is baie lekker en verseker pure Man Kos.

Met al die publisiteit rondom al die goed wat ons mag eet, en wat ons nie mag eet nie en dit wat ons verseker gaan dood maak en dit wat ongetwyfeld vet maak, word mens soms erg depressief as jy net aan kos dink.

Beslag in die glas

Vir my is die belangrikste reël dat ek darem ‘n redelike goeie idee moet hê van waar my kos kom. So het dit dan gebeur dat ek oor die laaste klompie jare al die gewone worsies, polonies, hoenderlewers, burger patties en viskoekies vermy soos die pes. Die goed leen hulle by uitstek daartoe dat ons allerhande gemors gevoer kan word en ons is salig onbewus daarvan.

Hier in Nelspruit is ‘n slaghuis, Meat Delights … en by hulle koop ek die worsies waarvan so baie van ons hou. Ek vertrou die slagter dat sy nie long, ****** en tong in my worsies sal sit nie en dis goed genoeg vir my.

Corn Dogs is uit en uit ‘n Amerikaanse skepping en die laaste klompie jare sien ons dit by feeste en Saterdag markte. Sover ek kon vasstel is die naam Corn Dog blykbaar omdat daar mieliemeel in die beslag gesit word. Ek sit Jan Pap se Braaipap meel in myne want dis lekker grof. Jy kan enige mieliemeel insit wat jy het, ek sien dat sommige mense polenta in sit.
Nou wat presies is die Corn Dog? Dis eenvoudig, dis bloot net ‘n worsie wat op ‘n stokkie gedruk word, in die beslag gedoop word en dan in diepvet gebraai word. Klink eenvoudig maar jissie dis lekker.

In die diepvet braaier

Die belangrikste ding is dat jy jou beslag aanmaak, en dan gooi ek dit in ‘n glas; ‘n glas wat diep genoeg is sodat die worsie mooi in die beslag gedruk kan word. Dis belangrik want anders gaan jy sukkel. Tweede ding is, maak seker jou gekose worsies is mooi droo. Ek droog hulle af met papierhandoek. As jy dit nie doen nie gaan jy probleme kry met die vog in die diepvet en jou beslag gaan nie lekker klou nie. Laastens is dit nodig dat jy die worsies in koekmeel rol voordat jy dit in die beslag doop.

Nou as jy al die dinge gedoen het dan kan jy redelik seker wees die braaiery gaan goed afloop. Ek maak my olie so 175C to 180C warm. As jy nie ‘n diepvet braaier het nie, gebruik ‘n groot pan want dis belangrik dat die worsie met stokkie en al mooi in die olie kan ingaan.

Hier is die resep …

6 sausages / hotdogs – Ek gebruik gewoonlik Frankfurters of Russians.
1 Koppie Self-Rising flour – as jy nie het nie. Gewone meel plus 1 Teelepel bakpoeier.
1 Koppie Mieliemeel
1 Koppie melk
1 eier
Sout en Peper … ek gooi ook Braaivleis speserye in.
Olie vir die diepbraai.

Gooi alles in ‘n bak en meng goed. Dis ‘n baie stywe beslag en dis wat jy soek.

Steek nou stokkies in die worsies en doop in die beslag. Dan olie toe. Vir so 7 tot 8 minute. Moenie die olie te warm maak nie, want dan gaan die deeg brand.

Hier is ‘n video van hoe dit gedoen word … Corn Dogs

Ek het al omtrent al die worsies wat hulle maak so gebraai, ek hou nogal van die Russians maar my familie verkies die gewone Frankfurters.

Kook lekker tot ek weer ‘n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy … Man Kos … like hom as jy wil.”

Colyn Serfontein is ‘n bekende sjef, bakker en storieverteller. As jy nie ‘n koekin clue het wat om vir ete te maak nie, kan jy gerus gaan kyk na sy kos-en-storiesblog Colyn Maak Man Kos.

NEWSLETTER

SIGN UP

Do you want to get the latest news from Melkbos.net? Enter your email address and click subscribe.