
Motoriste versus leerders. Foto’s: Melkbos.net
Die stadsvaders doen niks oor die gevaarlike pad voor Melkbosstrand hoërskool nie. Hier was al verskeie insidente.
Die stadsvaders sê egter die verkeer op die hoek van
11de Laan en Otto du Plessis Rylaan is nie druk genoeg om ‘n robot of vierrigting stop te regverdig nie. Melkbos.net het Maandagoggend langs die pad gaan staan om te kyk hoe dinge lyk.
Miskien moet die stadsvaders tydens spitsverkeer kom kyk hoe lyk dit hierso… Motors, voetgangers, motorfietse en leerders op skaatsplanke kompeteer om oor die kruising te kom. Hier’s karre wat jaag asof dit Kyalami is en skoliere wat aan poer-poer.

Sommige leerders ry skaatsplank.
Die gevaarlike oomblik kom wanneer hulle oor Otto du Plessisrylaan moet beweeg na die skool. Die twee voetoorgange aan weerskante van die skool help maar min, en sommige leerders gebruik hulle nie eens nie, maar kruis die pad op enige plek.

Motoriste is min lus vir stop by die voetoorgang.
Voetoorgange lol
Die motoriste tree op asof die pad aan hulle behoort en verminder nie merkbaar spoed by die voetoorgange nie. Slegs een motor het gestop vir leerders om te kruis, terwyl Melkbos.net gestaan en kyk het. Miskien omdat hy die kamera gesien het.
Op 7 Mei is iemand ‘n paar honderd meter vanaf die skool dood in ‘n kop-aan-kop-botsing. Hier was al ‘n ongeluk tussen ‘n motor en ‘n motorfiets voor die skool, en so hittete ene tussen ‘n bus en ‘n leerder. Die hoof van Melkbosstrand belastingbetalersvereniging Smokie la Grange sê “Die pad gee my grys hare.”
Volgens La Grange wil provinsiale verkeer nie ‘n robot oprig nie, want hulle voer aan die verkeer voor die skool is nie druk genoeg nie. Die stad Kaapstad sê weer op sy beurt dat die pad nie besig genoeg is vir ‘n vierrigting stop nie. Die belastingbetalersvereniging het al verskeie male gaan aanklop by provinsiale verkeer, om die situasie te kom evalueer, maar tevergeefs.
Lesers, wat dink julle van die pad? Stuur gerus julle opinies aan linza@melkbos.net.