Marlene Edith Gillings en Phillip Roy Gillings is vanmiddag amptelik gegroet. Met liefde. Met respek. Asof hulle ‘tycoons’ was – en vir baie mense was hulle ook dit.
Ds. Marius Falck het die roudiens in die NG kerk hier op Melkbosstrand waargeneem. Maar eintlik was die diens ‘n spanpoging, want verskeie mense het hulle herinneringe van die gewilde egpaar, wat eenvoudig as Marlene en Roy bekendgestaan het, gedeel. Die egpaar is op 17 Mei op dieselfde dag kort na mekaar dood.
Marnette Meyer onthou Roy as ‘n “silwer skim,” weens sy silwer haardos. Sy onthou ook Marlene se groen oogskaduwee en groot oorbelle.
Karen Dreyer onthou dat Marlene die “fighter” was en Roy die stil steunpillaar. Dit het gewys uit die manier hoe hulle gestap het. Marlene het voor gestap, en Roy en hulle geliefde hond Duke het ‘n endjie agterna gevolg.
Ds. Falck het opgemerk dat hy aan die begin vir die paartjie bejammer het, maar op die einde hulle bewonder het. Hy het hulle vergelyk met mossies, arende en swaeltjies, en gesê hulle laaste vlug het hulle na die Hemel geneem.